top of page

Oor die skrywer

Riette Rust is in die Paarl gebore en het aan die Hoër Meisieskool gematrikuleer. Daarna het sy drama, tale en onderwys aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer. Ná universiteit het sy vir KWV as inligtingsbeampte gewerk en later redakteur geword van KWV se bekroonde personeelblad, Parskuip. Riette is deur die SA Brandewyngilde vereer vir haar joernalistieke bydrae tot die brandewynbedryf.


Sy is tans ’n vryskutjoernalis vir onder meer Sarie. Van haar artikels is met ’n Media24-merieteprys, ATKV-Mediaveertjies, en ’n Citadel-prys vir finansiële joernalistiek bekroon. Riette resenseer boeke vir onder meer Boekkeuse op Fine Music Radio. In 2016 het sy die kortlys van die kykNET-Rapportprys gehaal met haar resensie “Warm en wild, maar nie vir almal”. Sy het ’n TV-draaiboek oor wyn geskryf en dit self op kykNET aangebied. Haar tweede draaiboek is as Bloedsusters op Via uitgesaai.


Naas skryf, is sielkunde haar grootste passie. Sy het onlangs Sielkunde 1 tot 3 deur Unisa gestudeer en elke jaar met onderskeiding geslaag. Sy hou van avontuur en het al valskerm gespring (solo!), ’n skubaduikpoging aangewend, self ’n helikopter gestuur en saam met die bulle in Pamplona gehardloop.


Die geskenk  ̶  Liefde, selfdood en dieper leef is Riette se sesde boek. Haar vorige boeke sluit die topverkopers Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste en Die AA tot OE van seks, die eerste volledige seksgids in Afrikaans, in. Van die woorde in laasgenoemde, sommige wat sy self geskep het, is in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem.


Riette woon in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. Sy en haar oorlede man, JD, het twee dogters, Zahn en Cara.

Foto deur Brenda Veldtman

Oor die skrywer.png
bottom of page