Biografie

Riette Rust se vyfde boek, EK! EK! EK! Herken en hanteer narsiste, die eerste Suid-Afrikaanse en Afrikaanse boek oor narsisme, het onlangs by LAPA verskyn. Dié uitgewer was ook verantwoordelik vir Vlees en Bloed, met sy vertaling, Flesh and Blood, wat in Februarie 2016 die lig gesien het. Dis die opvolg van Ilse Salzwedel se Bloedsusters wat handel oor twee (ware) susters wat misdaadtonele skoonmaak. Kenners lewer dié keer deurlopend kommentaar.
Riette Rust 3

Haar Die Aa tot Oe van seks (Tafelberg), die eerste volwaardige seksgids in Afrikaans, het in April 2013 verskyn en was, volgens Nielsen-syfers, die agtste beste verkoper van daardie jaar; onder nie-fiksie én fiksie. Van die woorde daarin, sommige wat sy self geskep het, is in die WAT, oftewel die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, opgeneem.

Haar bundel kortverhale, ’n Lyf onthou, het in 2012 by Protea verskyn en haar eerste boek, Lang bene & Lipstiek – Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses, is in 2011 deur Naledi gepubliseer.

Riette is in die Paarl gebore en het aan die Hoër Meisieskool gematrikuleer. Daarna het sy drama, tale, sielkunde en onderwys aan die Universiteit Stellenbosch studeer en tussen-in vir die koshuisblad en Die Matie geskryf.

Ná universiteit het sy vir KWV in die Paarl as skakelbeampte gewerk, verskeie wynkursusse geloop en later self dié kursusse landwyd aangebied. Hierna is sy as redakteur van KWV se personeelblad, Parskuip, aangestel. Terselfdertyd het sy ’n paar kort kursusse in bedryfsjoernalistiek voltooi. Parskuip is verskeie kere bekroon.

Toe die gesin na Worcester verhuis het, het Riette vryskut vir onder meer SARIE en die Worcester Standard geskryf. Haar vroueblad en wynrubriek in dié plattelandse koerant is nasionaal bekroon.

Sy is steeds ’n vryskutjoernalis wat vir verskeie tydskrifte en koerante skryf en jare lank SARIE se wynblad behartig het. Haar vryskutartikels oor verskeie onderwerpe is met ’n Media24-merieteprys, twee ATKV-Mediaveertjies, asook ’n Citadel-prys vir finansiële joernalistiek bekroon. In 2016 het Riette die kortlys van die kykNET-Rapportpryse, die grootste boekpryse in Afrikaans, gehaal met haar resensie “Warm en wild, maar nie vir almal” (oor Jan van Staden se Boer kry ’n vrou in By, Die Burger, 6 Junie 2015).

Riette het al ’n TV-draaiboek oor wyn geskryf en dit self op kykNET aangebied. Sy is boonop lid van die gesogte SA Brandewyngilde wat haar vir haar joernalistieke bydrae tot die brandewynbedryf vereer het. Tans werk sy aan ‘n tweede draaiboek, dié keer vir Via. Dis ‘n feitelike misdaadreeds.

Sy verskyn gereeld op TV, en regstreekse radio-onderhoude word dikwels met haar gevoer oor die onderwerpe wat sy vir artikels navors. Sy bied ook boekresensies op Fine Music Radio aan.

Riette studeer tans sielkunde van vooraf, dié keer deur Unisa en bloot vir die genot.

Die lirieke van haar eerste liedjie, “Waar bly jy?”, is op die sanger Willie Strauss se album Seisoene opgeneem.

Haar liefdes sluit in lees (sy het ’n uitgebreide boekversameling), musiek (veral jazz), toneel, kunsflieks, koekbak, asook goeie kos en wyn. Sy hou van avontuur en het al valskerm gespring (solo!), ’n skubaduikpoging aangewend, self ’n helikopter gestuur en saam met die bulle in Pamplona gehardloop.

Riette en haar man, JD, ’n regsadviseur, woon in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. Hulle het twee dogters. Zahn (30) het ’n meestersgraad in kuns, is ’n bloemiste in Kaapstad en beoefen ná-ure kuns. Cara (25) het ’n dramagraad en werk vir ’n produksiemaatskappy in Kaapstad wat onder meer TV-advertensies vervaardig.